Tuesday, April 17, 2007

Racheltjie de Beer

Die is die verhaal van die 12-jarige Rachel de Beer, wat haar lewe geoffer het om 'n ander se lewe te red.
Die jaar was 1843, en dit sou 'n bitter koue winter wees. Racheltjie was saam met haar gesin op trek gewees vanaf die Oranje-Vrystaat na die Suid-Oos Transvaal toe.
Terwyl hulle nog verder op soek was na grond, het hulle een aand oorgestaan in die veld op 'n boer se plaas. Die aand, toe die beeste weer in die takkraal gejaag word, kom daar een kalfie kort. Die kalfie se naam was "Frikkie" en die kinders was baie lief vir hom.
'n Soekgeselskap is dadelik op die been gebring. Racheltjie en haar 6-jarige boetie het deelgeneem aan die soektog. Dit het egter al begin skemer word, en kort voor lank was Racheltjie en haar boetie, verdwaal.
Koue het ongenadiglik op hulle toegeslaan, en dit het boonop begin sneeu ook. Wetende dat stilstand hulle dood sou beteken, het Racheltjie hulle aan die loop gehou. Sy het besef dat hulle dit nie sou oorleef nie. . .
Met 'n klip het sy 'n miershoop in die veld uitgehol. Daarna het sy haar klere uitgetrek, en vir haar boetie aangetrek. Sy het volgende haar boetie beveel om binne in die miershoop te klim. Met haar kaal lyfie het sy voor die miershoop gaan le om so die koue buite te hou . . .
So het hulle haar dood aangetref die volgende oggend. Styf van die koue het haar boetie uitgeklim.
Die verhaal van Racheltjie sou vir altyd in die geheue van die Boerenasie bly voortleef.

No comments: