Tuesday, April 17, 2007

Japie Greyling(1890 - 1954)

Jacobus Johannes Cornelis (Japie) Greyling, is gebore in 1890 op die plaas Smaldeel in die distrik Hoopstad, Oranje Vrystaat.
Gedurende die Anglo-Boereoorlog was Japie se vader en 2 ouer broers op kommando om teen die Engelse te veg.
Een aande gedurende die oorlog, het sy vader se kommando op die plaas oornag. Die Engelse was kort op hulle hakke, en agter hulle bloed aan. Die oggend nadat die kommando vertrek het, daag die Engelse dan ook daar op.
Die offisier in bevel, 'n sekere kaptein JEB Sealy, kry dan ook bewyse op die plaas dat die kommando daar oornag het. Nadat Sealy bietjie rondgekyk het, sien hy vir Japie daar naby staan en besluit om hom te ondervra.
Hoeveel van hulle was daar? Wie was almal daar? Waarheen is hulle op pad? Japie het egter geweier om sy vader se kommando te verraai. Sealy was vasbeslote om die inligting te bekom, en beveel sy soldate om Japie teen die huis se muur te laat staan voor 'n vuurpeleton.
Hy het Japie 'n laaste maal vir die inligting gevra, en beloof om hom te bevry indien hy die inligting sou verstrek. Japie het egter nog steeds geweier.
Sealy het sy soldate beveel om aan te korrel te neem. "Gereed!" . . . Stilweg beveel hy sy manne toe om te stop. Hy het na Japie gegaan, sy hand geskud en weer met sy soldate vertrek.
Baie jare nadat die oorlog reeds lankal verby en byna vergete was, het die Engelse offisier steeds vertel van die dapper klein Boertjie wat hy in Suid-Afrika ontmoet het.

No comments: