Tuesday, April 17, 2007

Dirkie Uys

Die datum is 10 April 1838. Die uur van beslissing het geslaan. Dit was nou of nooit. Piet Retief en sy klein kommando is uitgemoor tydens onderhandelinge met Dingaan, die koning van die Zoeloes. Moord en verskrikking het hierop gevolg. Die Voortrekkers was op hul laaste. Dit was nou 'n kwessie van oorleef. Hierdie strafekspedisie was meer as net dit. Die een wat verloor sou sy bakens moes versit.
Hendrik Potgieter sou sy mense lei, terwyl Piet Uys sy mense sowel as Gerrit Maritz en oorlede Piet Retief se mense sou lei. Sodoende het die kommando in twee verdeel.
Aanvanklik het die geveg in die Voortrekkers se guns geswaai. Die Zoeloes het op vlug geslaan en Piet Uys se kommando het hulle agtervolg. Deur die Italeni kom het hulle die Zoeloes gevolg - reg in 'n lokval in.
Die Voortrekkers moes net uithaal en wys om hulself te verdedig. 'n Assegaai het egter vir Piet Uys noodlottig verwond. Hy was besig om te sterf en het sodoende die kommando vertraag. Kommandant Uys het hulle beveel om hom te los en te vlug.
Die Trekkers het op vlug geslaan, maar die jonge Dirkie Uys, seun van Kommandant Piet Uys, het geweier om sy vader alleen te laat.
Langs sy vader se sy, het hy geveg teen die Zoeloes. Later, toe hulle te naby vir hom was om weer sy geweer te herlaai, het hy met die kolf van sy geweer teen hulle baklei. . . . .
Die kommando sou later bekend staan as die Vlugkommando, en het die laagtepunt van die Groot Trek beteken.
Die heldedood van Dirkie Uys, langs sy vader, sou egter na meer as 150 jaar na sy dood, nog steeds in die volksmond bly voortbestaan.

Japie Greyling(1890 - 1954)

Jacobus Johannes Cornelis (Japie) Greyling, is gebore in 1890 op die plaas Smaldeel in die distrik Hoopstad, Oranje Vrystaat.
Gedurende die Anglo-Boereoorlog was Japie se vader en 2 ouer broers op kommando om teen die Engelse te veg.
Een aande gedurende die oorlog, het sy vader se kommando op die plaas oornag. Die Engelse was kort op hulle hakke, en agter hulle bloed aan. Die oggend nadat die kommando vertrek het, daag die Engelse dan ook daar op.
Die offisier in bevel, 'n sekere kaptein JEB Sealy, kry dan ook bewyse op die plaas dat die kommando daar oornag het. Nadat Sealy bietjie rondgekyk het, sien hy vir Japie daar naby staan en besluit om hom te ondervra.
Hoeveel van hulle was daar? Wie was almal daar? Waarheen is hulle op pad? Japie het egter geweier om sy vader se kommando te verraai. Sealy was vasbeslote om die inligting te bekom, en beveel sy soldate om Japie teen die huis se muur te laat staan voor 'n vuurpeleton.
Hy het Japie 'n laaste maal vir die inligting gevra, en beloof om hom te bevry indien hy die inligting sou verstrek. Japie het egter nog steeds geweier.
Sealy het sy soldate beveel om aan te korrel te neem. "Gereed!" . . . Stilweg beveel hy sy manne toe om te stop. Hy het na Japie gegaan, sy hand geskud en weer met sy soldate vertrek.
Baie jare nadat die oorlog reeds lankal verby en byna vergete was, het die Engelse offisier steeds vertel van die dapper klein Boertjie wat hy in Suid-Afrika ontmoet het.

Racheltjie de Beer

Die is die verhaal van die 12-jarige Rachel de Beer, wat haar lewe geoffer het om 'n ander se lewe te red.
Die jaar was 1843, en dit sou 'n bitter koue winter wees. Racheltjie was saam met haar gesin op trek gewees vanaf die Oranje-Vrystaat na die Suid-Oos Transvaal toe.
Terwyl hulle nog verder op soek was na grond, het hulle een aand oorgestaan in die veld op 'n boer se plaas. Die aand, toe die beeste weer in die takkraal gejaag word, kom daar een kalfie kort. Die kalfie se naam was "Frikkie" en die kinders was baie lief vir hom.
'n Soekgeselskap is dadelik op die been gebring. Racheltjie en haar 6-jarige boetie het deelgeneem aan die soektog. Dit het egter al begin skemer word, en kort voor lank was Racheltjie en haar boetie, verdwaal.
Koue het ongenadiglik op hulle toegeslaan, en dit het boonop begin sneeu ook. Wetende dat stilstand hulle dood sou beteken, het Racheltjie hulle aan die loop gehou. Sy het besef dat hulle dit nie sou oorleef nie. . .
Met 'n klip het sy 'n miershoop in die veld uitgehol. Daarna het sy haar klere uitgetrek, en vir haar boetie aangetrek. Sy het volgende haar boetie beveel om binne in die miershoop te klim. Met haar kaal lyfie het sy voor die miershoop gaan le om so die koue buite te hou . . .
So het hulle haar dood aangetref die volgende oggend. Styf van die koue het haar boetie uitgeklim.
Die verhaal van Racheltjie sou vir altyd in die geheue van die Boerenasie bly voortleef.